Hysbak

Hysbakke

'n Hysbak is 'n hyswerktuig waarmee mense en goedere in 'n vertikale skag op en af vervoer word. Moderne hysers word deur elektromotore en met behulp van kabels, katrolle en teengewigte aangedryf. Die vermoë van 'n hyser om veilige vervoer teen 'n redelike snelheid te verskaf, het gelei tot die bou van wolkekrabbers en toringgeboue waardeur 'n beperkte aardoppervlakte doeltreffend benut word deur 'n groot aantal kamers, kantore, winkels en sale in 'n opeengestapelde konstruksie te huisves.

Gerieflike hysers, selfs met lugversorging toegerus, beweeg geruisloos onder beheer van die passasiers van vloer tot vloer in geboue en op skepe. Die Romeinse argitek-ingenieur Vitruvius (100 v.C.) het in sy tyd al 'n beskrywing gegee van platvorms waarmee goedere opgehys is.

Vroeg in die 19e eeu het hidrouliese hysers hul verskyning gemaak. 'n Suier is deur vloeistof omhoog gedruk om 'n platform op te lig, maar die hoogte wat so 'n hyser kon bereik, was beperk. Katrolle en toue is toe ook reeds gebruik, maar die toue, wat uit gevlegde vesels bestaan het, was nie baie sterk nie. Hoewel groter hoogtes met behulp van toue bereik kon word, het die onbetroubaarheid daarvan die hysers egter ongeskik gemaak vir passasiers. Die Amerikaner Elisha Otis het in 1853 'n veiligheidstoestel bekend gestel wat die weg gebaan het vir die gebruik van toue.

Die toestel het klampe bevat wat aan gidsspore vasgegryp het sodra die spanning op die hysbaktoue skielik verslap het. Die eerste hysbak vir passasiers is in 1857 in 'n afdelingswinkel, genaamd die Haughwout Department Store, in New York geïnstalleer. 'n Stoomenjin het die windas waarmee die tau opgerol en afgewen is, aangedryf.

Die hysbak kon binne een minuut vyf verdiepings hoog styg en was ’n groot sukses. Verbeterde weergawes van die eerste hyser het in die volgende dertig jaar verskyn, maar werklike vooruitgang is eers gemaak toe die elektromotor in 1889 in gebruik geneem is vir die aandrywing van hysbakke. Die koms van elektrisiteit het ook die gebruik van drukknoppies in hysbakke moontlik gemaak, wat beheer vergemaklik het. Hysbakke kon egter steeds net 'n beperkte hoogte bereik omdat die dryfmeganismes in die kelderverdiepings van geboue geleë was. In 1895 is die eerste motor bo-op ’n gebou geïnstalleer, en om die motor aan te help, is 'n teengewig aan die hysbak gehang. Die toue is deur kabels vervang, wat nie meer op ’n trom (toutrommel) opgerol was nie, maar oor 'n wrywingstrommel met die teengewig aan die punt van die tou.

Die hoogte waarna 'n hysbak opgehys kon word, was toe slegs beperk deur die hoogte van die gebou self. Met die probleme van veiligheid, hoogte en snelheid opgelos, het die klem nou na gerief en ekonomiese benutting verskuif. In 1915 is die hysbakke van skakelaars voorsien wat dit vanself gelyk met 'n vloer laat stilhou het, en die deure is met elektromotore oop-en toegemaak. Die gemiddelde snelheid van 'n hysbak was in daardie stadium sowat 5 m/s. Verdere ontwikkeling het meegebring dat 'n hysbak nie kon beweeg as die deur oop is nie en dat die hyser in die volgorde waarin die knoppies gedruk is, by vloere aangedoen het. Moderne hysbakke vervoer mense en goedere vinnig en veilig, nie net in geboue nie, maar ook op skepe, ondergronds in myne, in damwalle by hidroëlektriese skemas, vir die laai van vliegtuie en selfs vir die vervoer van ruimtevaarders na die intreevlak van ruimtetuie.

Belangrike kenmerke van 'n hysbak is onder meer afmetings, hefvermoë, snelheid, hyshoogte en die wyse waarop dit beheer word. Die afmetings van 'n hysbak word bepaal deur die doel waarvoor en die plek waar dit gebruik word. In hospitale is die hysers gewoonlik langwerpig want pasiënte word dikwels op, beddens, ensovoorts, vervoer. By kantoorgeboue hang die afmetings af van die aantal mense wat die gebou per uur besoek, en in woonstelgeboue is hysers gewoonlik nie baie groot nie aangesien dit hoofsaaklik soggens en saans deur 'n beperkte aantal mense gebruik word. Die hefvermoë word uitgedruk interne van die aantal mense wat ’n hysbak gelyktydig kan vervoer of in kilogram. 'n Hysbak se snelheid is eweredig aan die massa wat vervoer word en die hoogte waarna dit moet beweeg.

Goederehysers beweeg gewoonlik stadiger as passasiershysers terwyl hysbakke in hoë geboue vinniger is as die in lae geboue. Die snelheid vir 'n goederehysbak is soms so laag as 0,4 meter per sekonde maar is gemiddeld ongeveer 1,5 m/s. In lae geboue (laer as 10 verdiepings) is die snelheid tot 3 mis, terwyl dit in hoër geboue tot 7 m/s kan wees. Die snelheid van 'n hysbak is verder onderhewig aan faktore soos versnelling, vertraging kragte wat dit op 'n konstruksie uitoefen en die atmosferiese drukverandering wat die mens kan weerstaan. In 'n lae gebou (ongeveer 30 m) duur die rit in 'n hysbak sowat 15 sekondes van onder na bo en in hoër geboue tot 30 sekondes, afhangende daarvan of die rit onderbreek word of nie en ook die hoogte van die gebou.

'n Persoon binne of buite die hysbak kan dit op enige vlak tot stilstand bring mits die bewegingsrigting van die hysbak op daardie tydstip dit toelaat. Indien meer as een beheerknoppie gedruk word, word die inligting so gerangskik dat die hysbak die vloere in die numeries korrekte volgorde aandoen. ’n Kenmerk van hysbakke is dat dit aandoenvoorkeur verleen aan aangevraagde vloere wat nie 'n verandering van bewegingsrigting vereis nie. Iemand wat dus op die middelste verdieping van 'n gebou staan en ondertoe wil gaan, sal die hysbak eers tot stilstand kan bring wanneer dit ondertoe beweeg en nie terwyl dit op pad boon toe is nie. Waar meer as een hyser in dieselfde gebou gebruik word, kan hulle kollektief sowel as selektief werk.

Kollektief beteken dat die hyser die volgorde waarin die knoppies gedruk word, registreer en dan in die numeries korrekte volgorde van vloer tot vloer beweeg. Twee of meer hysers kan selektief werk deurdat die volgorde wat geregistreer word, onder mekaar uitgeruil en aangepas word by die rigting waarin die hysers besig is om te beweeg. Kabels waarmee 'n hysbak opgetrek of laat sak word, word nie om 'n trommel opgewen nie, maar het 'n paar windings, om ’n windas, sodat die hysbak aan die een punt van die kabel hang en ’n teengewig aan die ander punt. Die wrywing tussen die kabel en die as sorg dat die kabel nie gly nie. Die voordeel van hierdie metode dat die motor die hysbak nie letterlik ophys nie, maar slegs 'n verplasing tussen die hyser en die teengewig bewerkstellig.

Die snelheid bly ook meer konstant aangesien die deursnee van die as waarom die kabel rol, konstant is, anders as in die geval van 'n trommel waarop die kabel open afgerol word en die deursnee van die trommel dus voortdurend verander. Gewoonlik word wisselstroommotore vir laer en gelykstroommotore vir hoë snelhede gebruik. Wisselstroommotore vereis egter minder onderhoud as gelykstroommotore omdat dit nie borsels en ’n kommutator het wat kan slyt nie. Die binne- en buitedeure van ’n hysbak werk gewoonlik van mekaar en die hyser kan nie beweeg as die buitedeur oop is nie. Die snelheid waarmee die deure oop en toe gaan word gereguleer om beserings te voorkom.

'n Sensor laat die deur(e) oopgaan sodra dit kontak maak met 'n voorwerp wat tussen die deur en die "kosyn" of tussen deurpanele beland. Feitlik alle hysbakke het 'n alarm waarmee hulp ontbied kan word indien die hysbak sou gaan staan. Die passasier word gewoonlik ook op die hoogte gehou van die posisie van die hysbak deur syfers of liggies op 'n konsole in die hysbak. Sommige hysers het selfs 'n interkomstelsel sodat iemand in die hysbak met ander mense in die gebou kan kommunikeer. Die meeste hysers word met een of ander vorm van lugreëling toegerus. Veiligheidstoestelle wat aan gidsrelings kan vasgryp indien 'n kabel sou breek, is by die meeste hysbakke aangebring en sommige hysbakke het selfs noodkabels. 'n Nuwe ontwikkeling is hysbakke wat aan die buitekant van geboue aangebring word om 'n panoramiese uitsig op die omgewing te verkry terwyl die hysbak boontoe of ondertoe beweeg.


Developed by StudentB